Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy.
Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreen,
Hy sal ons verkwik soos lentereens die grond verkwik. - Hosea 6:3
DIE KONING SE DONKIE
Ons leef en dien in Christus-sekerheid

KONTAK ONS seker7seker@gmail.com
Welkom by 'n Skrifgefokusde bestemming vir Bybelstudies, boeke, videos en groei.
Welcome to a Scripture-focused destination for Bible studies, books, videos and growth.
MENU KIESLYS EDITORIAL REDAKSIONEEL BOOKS BOEKE
 TUIS
 HUB & SPILPUNT
 - SENDING
 - BEDIENINGE
 BOONTOE
 BOEKWINKEL
 VIDEO'S
- MUSIEK
- LIG & SEKERHEID
- BLOEDFAMILIE
 VERNIET
 NUUS
 GPS NA INFO
- WIE IS ONS
- WAT GLO ONS
- ME SKANDALIZO HANDELSMERK
- PAYFAST & REGISTRASIE
- JURIDIESE JAZZ
 SEKER PRODUKSIES
 ONVERWAGS
Maretha Blog
 
Vandag kan anders wees. die uitgewersmaatskappy met boeke en Bybelvertalings wat jou hele lewe aanraak.
Wie ons is

Ons is Hennie en Maretha Maartens van Bloemfontein, Suid-Afrika. Hennie is 'n teoloog en Maretha 'n skrywer van beroep.
Hennie is die voltydse webmeester. Korrespondensie word aan hom gerig: seker7seker@gmail.com
Ontmoet die groter clan onderaan die antwoorde op die bekendstellingsvrae.
En maak gerus kontak!
seker7seker@gmail.com


1. Waar woon julle ?
Patmos, Uitbreiding 1, die hemel. Oftewel in 'n eenslaapkamer-boerekombuis-ronde-kuiertafel-sementvloer-en-boekehuis op 'n 8 hektaar kleinhoewe noord van Bloemfontein, in die middel van Suid-Afrika. Hennie was eienaar-bouer, M het die huisplan geteken, kleindogters Lilian en Danilde het die kleure van en doen-dit-self dinge in en om die huis beplan. Die bouspan was Bouer, Isaac, Joe en Bisho.
Hier het ons absoluut alles wat ons nodig het: wonderlike bure wat meer van alles weet as ons; suiwer water wat via 'n sonpaneeldompelpomp uit 'n onderaardse meer na die watertenk, sementdam en velddam kom; son en wind wat die wasgoed met die geur van die wind en die veld laat droogword, die Melkweg, die hemelruim, sonsopkomste en sonsondergange soos vuur op die horison, die maan in al sy siklusse , ruimte, doringbome, grasvlaktes, stilte. Soms sit die morester aan die bo- en die maan aan die onderkant van die grondpad na Patmos.


2. Leef julle groen?
As ons 30 jaar jonger was, sou ons ons volledig op son- en windkrag ingestem en ingestel het. Nou volg ons die middeweg van 'n sobere, eenvoudige, verantwoordelike en denkende leefstyl. Ons besit net wat ons nodig het (wat jy nie hier sien nie, het ons nie), kweek groente en blomme in ou buitebande, plant vrugtebome; herbenut waar ons kan en gebruik die minimum elektrisiteit. Ons het Eskomkrag vir lig, vir die elektriese grassnyer wat gereeld moet werk, vir ons rekenaars en kombuisapparaat. Die oorskakeling na satelliet-internet en telefoonkommunikasie was verrassend maklik. Die telefoonsein het soms 'n hik en 'n hobbel, maar as die sein goed is, is dit baie goed.

3. Is daar soms 'n slang in uitbreiding 1, die hemel?
Slange, die meervoud. Pofadders kom soek paddas hier. Die grasvelde is die habitat van geelslange en skaapstekers en kousbandslange. Op die grondpad wat hier verbygaan, het ons al 'n nagadder van aangesig tot aangesig ontmoet. Ons leer die ander veldbewoners so een na die ander ken. Buurman Bertus vertel dat 'n mot hom nou die aand gebyt het dat die bloed loop. Ons het genoeg spinnekopspesies vir 'n spinnekopboek, maar Hennie gaan die spinnekoppe nie vang en ek gaan die boek nie skryf nie. Vir die grys- en bontpootjiebosluise van die grasvlaktes moet ons almal van Januarie tot Meimaand op ons hoede wees.
Antwoord gesoek: weet iemand dalk wie hierdie kritter met die alien-gesig is?

4. Is die Vrystaatse grasvlaktes 'n wilde wêreld?
Jip. Jakkalse kom snags uit die rante, Bouer die bouer sê hulle ruik die vet skape van die bure. Ry jy na donker hier op die grondpad, wip-hardloop die hasies voor die bakkie uit. Of jy sien 'n muskeljaatkat: eers die ogies wat in die lang gras blink, dan die swart ringe van sy stert. Ons kry besoek van groot swerms tarentale wat, terloops, onversadigbaar gulsige bosluisvreters is. Swaeltjies bou hier nes en swiep oor die water in die sementdam; skilpaaie, bloukraanvoëls en kiewiete, swerms skoenlappers en meerkatte is volop. Soms sien ons 'n steenbokkie of twee in die lig van die opgaande son hier naby die huis in die gras wei. Terwyl die bouwerk aan die huis aan die gang was, het daar bobbejane oor ons grond getrek en amok by die bure gemaak. En, ja, daar loop stories van 'n rooikat (of rooikatte) wat uit dieselfde rantjies as die jakkalse kom.

5. Hou julle van dié soort lewe?
Ons bly die Here dank vir alles wat ons juis nou beleef, leer, geniet en ontdek. Meer nog: ons het al vir Hom gevra om elke flitsgedagte van dankbaarheid, elke emosie van vreugde en geluk in ons as 'n lofprysing aan Hom te hoor en te aanvaar. Lofprysing kan mos uit die weefsel ook opstyg.


6. Wat is julle lewensleuse?

Ons leef en dien in Christus-sekerheid. Om by hierdie leuse te kan bly, het ons 'n geloofsbesluit geneem om aan hierdie kant van een spesifieke streep te bly. Ons trap nie oor die streep nie. Ons gaan nie aan die ander kant van die streep redeneer en argumenteer nie. Ons streep, ons keuse, is om Jesus Christus se woorde in Lukas 7:23 altyd ter harte te neem en altyd voor oë te hou:

“Geseënd is die man /mens wat aan My nie begin twyfel nie.” Vandaar die naam, Me Skandalizo (twyfel nie), die uitgewersnaam van ons selfpublikasieboeke.

7. Julle sê julle ry net pylreguit stad toe en 'n ent in die stad in om by julle kerk te kom...
Dit is alte gerieflik, maar darem nie die breë weg nie. Ons geestelike huisgesin is die lidmate van die klein, multikulturele Andrew Murray DRC Community Church in die middestad van Bloemfontein. Kom kuier gerus. Die oggenddiens Sondae begin om 09:00. En elke tweede Dinsdagaand om 18:30 het ons Bybelstudie in die kerksaal. Die leraar is Prof. Johan van Rensburg. Dit is 'n klein gemeente sonder fieterjasies, maar met baie liefde en 'n diep spirituele erns.


8. Het julle kinders en kleinkinders?
Ons het twee getroude dogters, Danila en Naomi, twee skoonseuns, Otto en Jan-Hendrik en vyf kleinkinders — Margerethe, Lilian, Danilde, Johannes en Maja: 'n uit-die-boks klomp soos min. Soms wonder ons waar hulle dié onkonvensionele streep vandaan kry?

9. Vriende?
Ons kosbaarste vriende (wat eie susters, skoonsusters, swaers en broers insluit) is denkende, kreatiewe, dapper en wyse kinders van die Here.

10. Troeteldiere?
Daar is nou drie katte in die gesin: Mathata, wat 15 jaar oud is, asook Tommie en Tienka, wat ons laat lag en ontspan. Kort gelede het T&T verhinder dat hulle nooi in die donker op 'n pofadder langs die sementdam trap. (Die slang het maar net op verbygaande paddas lê en wag...) Kyk, daardie aand het ons die Here vir sy sagtepels-engele hier op aarde gedank!

11. Wat het Hennie voor www.seker.co.za gedoen?
HENNIE was leraar in Oos Londen, Welkom en Noordhoek, Bloemfontein.
As emeritus-leraar preek hy steeds in gemeentes. Hy is ‘n ouderling in Andrew Murray-gemeente DRC .

HENNIE met Tommie, wat sy sin kry.



12. Iets oor Maretha?
Maretha het tussen 130 en 150 boeke geskryf: romans, ware lewensverhale, jeugromans, stiltetyddagboeke, kinderboeke, meisiedagboeke, toerustingsboeke en kursusse, asook omtrent 1000 tydskrifartikels, verhoogstukke, kortverhale en artikels. Sy het o.a. die Sanlamprys vir Jeuglektuur, Andrew Murray-prys en die Katolieke Kinderboekprys in Oostenryk verwerf. Sy is trots om by uitgewers soos CUM, NB BOEKE, LITERA, STRUIK, LUX VERBI, MASKEW MILLER LONGMAN en MACMILLAN SA te publiseer, by sommige van hulle al vir meer as 40 jaar.Een fijne vennootschap en vriendschap! En ik hoop, nooit verbroken.
Sy skryf gereeld Lettie Fouche skool se kersspele. Van haar verhoogstukke vir skole is in gepubliseerde dramatekste opgeneem. Mars, 'n operette vir 1000 laerskoolkinders, is in 2014 geskryf en word DV. in Oktober 2014 deur Willem Postma Primêre Skool opgevoer.
Botterblom, 'n Bybelstudiedagboek vir vroue, het in 2014 by CUM verskyn.

Maretha lees voor uit MONUMENT




INFO AANGAANDE MARETHA, VIR SKOOLTAKE ENS:
• LITNET, Stellenbosch. ATKV skrywersalbum. http://www.litnet.co.za/Category/atkv-skrywersalbum
• NALN, Bloemfontein. Literêrhistoriese museum en Navorsingsinstituut: naln@sac.fs.gov.za.


13. Hoe lank is julle getroud, sê julle nooit 'n skewe woord vir mekaar nie, en wat laat 'n huwelik hou?
Met skewe woorde en skewe dade en al is ons deur die genade van die Here nou 44 jaar lank getroud. Net deur die werking van die Heilige Gees in 'n egpaar se lewe kan twee mense met baie foute so 'n lang pad met mekaar bly loop. Ons eer die Here vir die behoud van ons huwelik, en die geluk wat ons daarin beleef.

Ons dink dat mense wat trou, tóg 'n paar dinge in gemeen moet hê: beslis gedeelde waardes, beslis dieselfde geloofsoortuiging. En die soet, gerusstellende sekuriteit van roetine, rituele en tradisies waarby die egpaar (en gesin) meestal hou: eenvoudige dinge soos vroegoggendkoffie, huisgodsdiens by die kombuistafel, pasta op Dinsdag, 'n gedekte etenstafel, een sepie saam kyk... Die keersy hiervan is gedeelde avontuur, soos om op 'n Sondagmiddag met Metro-Rail Kaapstad toe te ry, Ethiopië te gaan verken of die doelpale in jou professie so effens te verskuif.

Ons weet dat egpare wie se huwelike hou, mekaar 'n volgende kans gee. Dat hulle vir mekaar en vir hulle huwelik bid. Dat hulle eerlik met en goed vir mekaar is. Dat hulle mekaar so stryd, vreugdes, klein oorwinnings en menswees wil verstaan. Dat hulle vir mekaar tyd maak, wat deel van die soet en onvergeetlike rituele van hulle huwelik is.


14. Waarom het julle www.seker.co.za geskep?
Ons het 'n onontwykbare opdrag van die Here in ons kop en gemoed ontvang, jare lank. Die webblad behoort aan Hom.

15. Die clan

1. Mathata hou lekker vakansie.
2. Op sy eerste verjaardag ver van die huis af, by die Here, dank ons die God van die verbond vir Peet du Plooy se lewensjare hier op die aarde. Ons geliefde susterskind is op 10 Maart 2013 vermoor.
3. Kleindogter Lilian Liebenberg met Carlos.
4. Saam met Liebenberg-clan: Otto, Danila en drie dogters.
5. Kleindogter Danilde Liebenberg met Carlos.
6. Kleindogter Maja Meyer word drie, met Jan-Hendrik en Naomi Meyer wat bystand verleen.
7. Kleinseun Johannes Meyer in die ruimte.
8. Kleindogter Maja Meyer, wat glo sy is sewe jaar oud, soos boetie Johannes.
9. Patmos, Uitbreiding 1, die hemel, wanneer die Vrystaat reënnat is.
10. Tommie en Tienka, die jongspan.
11. Patmos, Uitbreiding 1, die hemel. As die hemel so wyd is, sou jy nie ook dikwels wasgoed wou ophang nie?
12. Kleindogter Maggy Liebenberg, Matriekafskeid, 2013.
13. Maretha en Hennie Maartens.




DIE KRUISKONING deur Maretha Maartens. Hierdie Evangeliese toneelteks handel oor die aardse bedie
Lees meer...

    DIE EVANGELIE VIR DIE KERSTYD!   DIE LAM is
Lees meer...

WAY BETTER THAN POPCORN. Hendrik Rocher’s testimony: On Mother’s Day 2002 God sav
Lees meer...

DIE KRUISKONING deur Maretha Maartens. Hierdie Evangeliese toneelteks handel oor die aardse bedie
Lees meer...
Winkel
      Tuis | Blaaier | Kontak Ons    |    Vrywaring | Privaatheidsbeleid | IBS | Webmeester
© 2017 Seker.co.za
Chillies